ALGEMENE INLIGTING

 

Visie van Vereeniging Kunsfees

Die Vereeniging Kunsfees is ‘n nie-winsgewende organisasie.  Die doelwit van die organisasie is die bevordering van en die daarstel van ‘n platform vir die ontwikkeling van die uitvoerende en kreatiewe kunste in Vereeniging, asook die Vaaldriehoek en omliggende gebiede.

 

Bestuur van die Kunsfees

Die Vereeniging Kunsfees word georganiseer en bestuur deur gekose lede uit die affiliate.  Die Bestuurslede is almal toegewyd tot die visie van die Vereenigng Kunsfees en dienslewering aan die gemeenskap.

In die interpretasie van hierdie sillabus, lê die finale besluit by die Bestuur van die Vereeniging Kunsfees.

 

Webwerf en e-posadres.

Webwerf:     www.vereenigingartsfestival.co.za

E-posadres:    vereenigingartsfestival@gmail.com

Alle ander addisionele inligting, fooie en inskrywingsvorms, is op die webwerf beskikbaar.

 

Inligting rakende deelname:

  • Deelname is oop vir amateurs. Professionele uitvoerende of kreatiewe kunstenaars mag nie deelneem nie. Onderwysers en afrigters mag deelneem.
  • Leerders met spesiale onderrigbehoeftes (LSEN-leerders) word deelname in al die afdelings van die Vereeniging Kunsfees toegelaat. Daar is spesiale inskrywingsvorms en ‘n sillabus vir LSEN-leerders op die webwerf beskikbaar.
  • Affiliasiefooie: Alle skole, studios of organisasies wat aan die Vereeniging Kunsfees wil deelneem, moet ’n affiliasiefooi betaal. ’n Verminderde affiliasiefooi is beskikbaar vir individue wat verkies om vir 10 of minder items in te skryf. Inligting hieroor is beskikbaar op die ‘Fooie en Opsommingsvorm’.
  • ’n Deelnemer / groep mag slegs een keer onder ’n spesifieke itemnommer inskryf.
  • Deelnemers mag egter ook deelneem in items vir ’n hoër vlak of graad, indien hulle dit sou verkies.
  • Groepgroottes:
    • Koor: 21 – 120 persone
    • Spreekkoor: 15 – 50 persone
    • Orkes: 21 – 50 spelers
    • Ensemble: 5 – 20 spelers
    • Dialoog: 2 – 4 persone
    • Groep: 4 – 20 (Tensy anders vermeld)
  • Deelnemers moet 15 minute voor die aangewese tyd by die venue aanmeld.
  • ’n Afskrif van die stuk wat uitgevoer gaan word moet ingehandig word. Indien dit nie beskikbaar is nie, hou die beoordelaar die reg voor om nie die item te beoordeel nie.

 

Sillabus

  • Die Vereeniging Kunsfees het agt afdelings:
    • Visuele Kuns
    • Instrumentaal
    • Klavier
    • Vokaal
    • Koor
    • Afrikaanse Drama
    • Engelse Drama
    • LSEN
  • Alle items onder elke afdeling word in hierdie sillabus vervat. ‘n Affiliaat is welkom om die sillabus, of ‘n gedeelte daarvan soos benodig, van die webwerf af te laai en uit te druk en te bind vir gebruik, indien dit die taak om in te skryf kan vergemaklik.
  • ’n Sameroeper staan aan die hoof van elke afdeling. Indien u enige navrae het, kontak die betrokke sameroeper van die afdeling. (Kontakbesonderhede is op die webwerf beskikbaar op die ‘Datums en Inligtingsvorm’.
  • Alle items in hierdie sillabus het ’n itemnommer as verwysing wat gebruik word om die inskrywings te sorteer. Affilieerders moet asseblief seker maak dat die korrekte itemnommer ingevul word op die inskrywingsvorm as verwysing vir items.
  • Die inskrywingsvorms en die sillabus se kolomme korrelleer. Moet dus asb. nie aan die kolomme verander nie!
  • Alle tydsbeperkinge vir elke item word in minute aangedui. Hou dus asb. daarby, anders mag dit gebeur dat ‘n deelnemer nie sy/haar item sal kan voltooi nie. Ons het baie inskrywings en indien deelnemers nie by die voorgeskrewe tyd per item hou nie, veroorsaak dit dat die program langer aanhou as wat beplan is. U samewerking sal baie waardeer word!

 

Inskrywings

  • Alle inskrywingsvorms is beskikbaar op die webwerf van die Vereeniging Kunsfees, maar kan ook aangevra word van: vereenigingartsfestival@gmail.com.
  • Elke afdeling word op ’n aparte inskrywingsvorms uniek tot daardie afdeling, ingevul.
  • Inskrywings moet elektronies gedoen word! Geen handgeskrewe inskrywings sal aanvaar word nie.
  • Maak seker dat die spelling van name korrek is (insluitende spesiale karakters byvoorbeeld ê; é of ö), aangesien die sertifikate elektronies vanaf die inskrywingsvorm gedruk word.
  • Vul die korrekte itemnommer in by elke item en volg dieselfde formaat soos in die sillabus om die ander kolomme te voltooi.
  • Vul die inskrywingsvorm in, in die taal van die deelnemer, aangesien die sertifikaat so gedruk sal word. Om dit vir affiliate te vergemaklik, is daar aparte inskrywingsvorms vir Afrikaanse en Engelse deelnemers op die webwerf beskikbaar.
  • Moenie enige kolomme of opskrifte op die inskrywingsvorm byvoeg nie.
  • Die formaat van die inskrywingsvorm moenie verander word na PDF of enige ander formaat wat nie veranderbaar is nie.
  • Affiliate moet hul inskrywings van alle afdelings konsolideer op die ‘Fooie en Opsommingsvorm’.
  • Alle inskrywingsfooie moet elektronies oorbetaal word. Bankbesonderhede verskyn op die ‘Fooie en Opsommingsvorm’. Geen inskrywings sal aanvaar word voordat die fooie daarvoor verskuldig, nie ten volle vereffen is nie.
  • Elektroniese inskrywingsvorms moet na vereenigingartsfestival@gmail.com gestuur word.      Stuur asb. die volgende dokumente saam met u inskrywingsvorm:  ‘Fooie en Opsommingsvorm’, en die Bewys van Betaling.   
  • Die komitee hou die reg voor om laat inskrywings te weier of ’n boete te verhef.
  • Spesiale versoeke moet asb. per epos saam met die inskrywings gestuur word. Die sameroepster sal dan kyk na die meriete van die versoek en of/hoe die versoek akkommodeer kan word, indien die versoek toegestaan word.
  • Geen verplasing van deelnemers word na die sluitingsdatum toegelaat nie.
  • Slegs inskrywings van geaffilieerde skole / studio’s / organisasies sal aanvaar word.
  • Alle private individue wat wil inskryf moet ook ’n affiliasiefooi betaal (verwys asseblief na die webwerf vir fooie).
  • Kennisgewing van skedules sal na die geaffilieerdes ge-epos word na die Julie-skoolvakansie. (Die e-posadres op die inskrywingsvorms sal gebruik word.)

 

Sertifikate

  • Een sertifikaat per item word gedruk.
  • Een sertifikaat per groepsitem word gedruk.
  • Geaffilieerdes mag die druk van sertifikate vir elke groeplid teen ’n addisionele fooi versoek, mits die naamlys die inskrywingsvorm ingevul en saam met die inskrywings gehandig word. Raadpleeg asb. die ‘Fooie en Opsomingsvorm’.
  • Sertifikate word elektronies vanaf die geaffilieerde se inskrywingsvorm gedruk. Daarom aanvaar die Vereeniging Kunsfees geen verantwoordelikheid vir spel- of tikfoute op sertifikate nie.
  • Indien daar ’n fout op ’n sertifikaat is, mag geaffilieerdes ’n herdruk aanvra by die sameroeper van die betrokke afdeling teen ’n fooi (verwys na die webwerf vir fooie).
  • Geaffilieerdes is verantwoordelik om hergedrukte sertifikate by die sameroeper af te haal voor die einde van die Vereeniging Kunsfees.
  • Geen sertifikaat sal herdruk word na 30 Oktober van die betrokke jaar nie.
  • Alle sertifikate word uitgegee sonder verandering (tippex) en met ’n handgeskrewe verslag van die beoordelaar.

 

Beoordeling

  • Die Vereeniging Kunsfees stel bekwame, geakkrediteerde beoordelaars, wat gekwalifiseerd is in die relevante veld van die afdeling, aan.
  • Geen beoordelaar word toegelaat om deel te neem aan ’n item en geen leerder, familielid of werker van die beoordelaar mag deelneem in die betrokke afdeling nie (behalwe as lid van ’n koor, maar nie die dirigent of begeleier nie).
  • Die Vereeniging Kunsfees Bestuur onderneem om die gradering van die beoordelaar te aanvaar as finaal.
  • Geen persoon (behalwe lede van die Bestuur) mag voor die aanvang van ’n sessie met die beoordelaar kommunikeer nie.
  • Die Vereeniging Kunsfees Bestuur het die reg om, in die geval van ’n dispuut skriftelik ingedien, ’n besluit te neem wat deur die betrokke partye as finaal aanvaar sal word.

 

Simbole op sertifikate

  • Alle deelnemers sal ’n sertifikaat ontvang om deelname te bevestig.
  • Prestasie word deur ’n simbool aangedui:
    • A++ = 90% en hoër
    • A+ = 85% - 89%
    • A = 80% - 81%
    • B+ = 75% - 79%
    • B = 70% - 74%
    • C+ = 65% - 69%
    • C = 60% - 64%
    • D = laer as 60%
  • Enige beoordelaar behou die reg voor om ’n A+++ -simbool toe te ken aan ’n uitsonderlike item. (Nasionale standaard).

VISUELE KUNS AFDELING

 

  • Werke wat in die huidige jaar en in die tweede helfte van die vorige jaar voltooi is, mag ingeskryf word.
  • Daar is spesiale inskrywingsvorms en ‘n sillabus vir LSEN-leerders op die webwerf beskikbaar.
  • Foutiewe inskrywings sal nie beoordeel word nie en geen inskrywingsgelde is terugbetaalbaar nie.
  • Die volgende vorms van Visuele Kuns sal aanvaar word:
    • Twee-dimensionele kuns: Tekening, skilder, collage.
    • Drie-dimensionele kuns: Beeldhouwerk, Papierwerk.
    • Fotografie
  • Geen rekenaargegenereerde kuns sal aanvaar word nie.
  • Die tema van die kunswerk is eie keuse.
  • Slegs oorspronklike kunswerke sal aanvaar word.
  • Die maksimum grootte van kunswerke is 550 x 450 mm.

 

INSTRUKSIES VIR INHANDIGING:

NB: Vir hierdie afdeling, moet harde kopieë van die inskrywings ingedien word vir beoordeling, asseblief!

    • Wenk: Monteer die kuns op karton.
    • Merk kunswerk op die voorkant: Naam en Van; Itemnommer; Graad; Titel.
    • Merk kunswerk agter: Skool/Studio.
    • Indien geen titel gegee is nie, merk as: Ongetiteld.
    • Alle inskrywings van 'n skool/studio moet geplaas word in 'n houer.
    • Merk die houer met: Skool/Studio, aantal inskrywings,kontaknommer.
    • Harde kopie van inskrywing: Vir hierdie afdeling MOET ons asb. ook ‘n harde kopie van die inskrywings ontvang asb. Dit is baie belangrik vir kontrole!
  • Die beoordelaar sal kunswerke selekteer vir uitstalling tydens die afdelings vir uitvoerende kunste en moet afgehaal word na afloop van die Vereeniging Kunsfees.
  • Kunswerke wat nie uitgestal word nie, moet, tesame met die sertifikate, met aanvang van die afdelings vir uitvoerende kunste afgehaal word. Sodra beoordeling afgehandel is, sal affiliate in kennis gestel word, sodat hulle die kunswerke kan kom afhaal.

KLAVIER AFDELING

  • Alle items is eie keuse binne die spesifieke styl.
  • Deelnemers moet ’n afskrif van die musiek by die beoordelaarstafel inhandig net voor die item uitgevoer word.
  • Net een inskrywing per itemnommer.
  • Deelnemers mag inskryf in twee verskillende vlakke (musiekgrade) in dieselfde kategorie.
  • Sekere style moet volgens musiekperiodes waartydens dit gekomponeer is, geïnterpreteer word: Barokperiode (1600-1750); Klassieke periode (1750-1800); Romantiese periode (1800-1900); 20ste Eeu (1900-2000).
  • Sommige van die style oorvleuel in genre en musiekperiode.
  • ’n Musiekstuk van enige genre mag onder die styl gemerk ‘ander’ of ‘eksamenstuk’ ingeskryf word.
  • Die Vereeniging Kunsfees onderneem om ’n klavier vir die hierdie afdeling beskikbaar te stel.
  • ’n Venue met twee klaviere sal vir concerto’s en kwartette beskikbaar gestel word.
  • ’n Venue sal vir items onder die sub-afdeling ‘orrel’ beskikbaar gestel word.
  • Geen klawerbord word deur die Vereeniging Kunsfees vir die sub-afdeling ‘Klavier of Klawerbord (met klankbaan)’ beskikbaar gestel nie.
  • Die Vereeniging Kunsfees sal klanktoerusting vir die speel van klankbane vir die sub-afdeling ‘Klavier of Klawerbord (met klankbaan)’ beskikbaar stel.
  • Geen addisionele toerusting (amplifeerders, midi-kabels, ens.) sal vir ’n klawerbord beskikbaar gestel word nie.
  • Die gebruik van klankbane onder die sub-afdeling ‘Klavier of Klawerbord (met klankbaan)’:
    • Opnames moet van hoë standaard en kwaliteit wees.
    • Opnames moet in digitale formaat op die dag van die uitvoering, duidelik gemerk met die deelnemer se naam en itemnommer, ingehandig word.
    • Die party wat deur die deelnemer vertolk word, mag nie in die klankbaan gedupliseer wees nie.
    • Klankbane word op eie risiko gebruik en geen terugbetaling of herskedulering word toegelaat a.g.v. klankbane wat foutief is.
  • Deelnemers word aanbeveel om die inskrywingsfooie op vereenigingartsfestival.co.za te raadpleeg aangesien fooie mag verskil ten opsigte van sub-afdeling, kategorie en vlak.
  • Deelnemers moet aan die tydsbeperking van die items aandag gee. Die sameroeper van die afdeling behou die reg voor om ’n uitvoering wat die tydsbeperking oorskry te stop.
  • Tydsbeperkinge word in minute aangedui langs elke item in die sillabus.
  • Voordragprogram: Die program moet uit twee, drie of vier konstrasterende werke, gekies vanuit verskillende style, bestaan. Die program moet nie die tydsbeperking oorskry nie.
  • Konsert: Vir die klavierafdeling word ’n konsert deur twee spelers op twee klaviere uitgevoer. Die deelnemers mag die hele konsert of slegs enige aantal bewegings uitvoer, binne die voorgeskrewe tydsbeperking.

INSTRUMENTALE AFDELING

  • Alle items is die deelnemers se eie keuse binne die spesifieke styl.
  • Deelnemers moet ‘n afskrif van die musiek by die beoordelaarstafel inhandig net voor die item uitgevoer word.
  • Slegs een inskrywing word per itemnommer toegelaat.
  • Deelnemers moet hul eie begeleier voorsien.
  • Begeleiding mag met klavier of enige ander instrument geskied.
  • Musiekwerke mag nie vir hierdie afdeling getransponeer word nie, maar moet in die oorspronklike toonsoort gespeel word.
  • Deelnemers mag inskryf in twee verskillende vlakke (musiekgrade) in dieselfde kategorie.
  • Sekere style moet volgens die musiekperiodes waartydens dit gekomponeer is, interpreteer word. Barokperiode (1600 – 1750); Klassieke periode (1750 – 1800); Romantiese periode (1800 – 1900); 20ste Eeu (1900 – 2000); Kontemporêr (2000 -…).
  • Sommige van die style oorvleuel in genre en musiekperiode.
  • ‘n Musiekstuk van enige genre mag onder die styl gemerk ‘ander’ of ‘eksamenstuk’, ingeskryf word.
  • Die Vereeniging Kunsfees sal geen instrumente vir hierdie afdeling beskikbaar stel nie. Deelnemers voorsien hul eie instrumente en is self verantwoordelik vir die opstel van hul instrumente en musiekstaander/s.
  • Die Vereeniging Kunsfees voorsien wel ‘n klavier wat gebruik kan word vir begeleiding in hierdie afdeling.
  • Die Vereeniging Kunsfees sal klanktoerusting vir die speel van klankbane voorsien vir alle sub-afdelings wat van klankbane gebruik maak.
  • Geen addisionele toerusting (versterkers, midi-kabels, ens.) word voorsien nie.
  • Klawerbord: Indien ‘n deelnemer hierdie instrument inskryf, bring asb. die instrument saam. Arriveer betyds om te verseker dat die instrument opgestel is en funksioneer, voor die deelnemer se optrede.  Kontak asb. die sameroepster van die afdeling vroegtydig om ‘n geskikte tyd hiervoor te reël.
  • Dromme:  Sorg asb. dat deelnemers betyds arriveer om die dromstel op te stel.  Kontak asb. die betrokke sameroepster van die afdeling om ‘n geskikte tyd daarvoor te reël.
  • Die gebruik van ‘n klankbaan in enige sub-afdeling:  Opnames moet van ‘n hoë standaard en kwaliteit wees.
    • Opnames moet in digitale formaat op die dag van die uitvoering, duidelik gemerk met die deelnemer se naam en itemnommer ingehandig word by die klankoperateur.
    • Die party wat deur die deelnemer vertolk word, mag nie op die klankbaan gedupliseer wees nie.
    • Klankbane word op eie risiko gebruik en geen terugbetaling of herskedulering word toegelaat a.g.v. klankbane wat foutief is nie.
  • Deelnemers word aangeraai om die inskrywingsfooie op die webwerf te raadpleeg, omdat fooie mag verskil ten opsigte van sub-afdeling, kategorie en vlak. Daar word ook ‘n fooi gehef vir die gebruik van klankbane.
  • Deelnemers moet aan die tydsbeperking van die items aandag gee. Die sameroepster van die afdeling behou die reg voor om ‘n uitvoering wat die tydsbeperking oorskry, te stop. Tydsbeperkings vir elke item word in die sillabus aangedui.
  • Voordragprogram: Die program moet uit twee, drie of vier kontrasterende werke, gekies vanuit verskillende style, bestaan. Die program moet ook nie die tydsbeperking oorskry nie.
  • Konsertprogram: ‘n Konsertprogram mag op enige instrument met klavierbegeleiding aangebied word. Die deelnemer mag die hele konsert of slegs enige aantal bewegings uitvoer, binne die voorgeskrewe tydsbeperking.
  • Ensembles en orkeste: Raadpleeg asb. die Algemene Inligting vir die groottes van groepe. ‘n Klavier of klawerbord mag deel vorm van enige ensemble of orkes (stryk-, blaas- of enige ander instrumente).  Geen elektroniese versterking of manipulasie deur klank-sagteware (m.b.v. klawerborde, elektroniese toerusting of klankbane), word toegelaat in hierdie sub-afdeling nie.

VOKALE AFDELING

  • Alle items is eie keuse binne die spesifieke sub-afdeling en styl.
  • Sangstukke mag in enige taal waarin dit gepubliseer is, aangebied word, behalwe in die kategorieë Duitse Lieder en Kunslied, wat in die taal waarin dit oorspronklik geskryf is, aangebied moet word.
  • Transponering word toegelaat, behalwe in die kategorieë Opera en Oratoria arias, wat in die oorspronklike toonsoort uitgevoer moet word.
  • Deelnemers moet ’n afskrif van die musiek by die beoordelaarstafel inhandig net voor die item uitgevoer word.
  • Net een inskrywing per itemnommer.
  • Deelnemers moet hul eie begeleiers voorsien.
  • Begeleiding mag met klavier of enige ander instrument aangebied word.
  • Deelnemers mag inskryf in twee verskillende vlakke (musiekgrade) in dieselfde kategorie.
  • ’n Musiekstuk van enige genre in ooreenstemming met die sub-afdeling mag onder die styl gemerk ‘ander’ of ‘vokaal’ ingeskryf word.
  • Die Vereeniging Kunsfees onderneem om ’n klavier vir begeleiding beskikbaar te stel.
  • Die Vereeniging Kunsfees sal klanktoerusting vir die gebruik van klankbane (insluitende twee mikrofone) vir ’n sub-afdeling met klankbaan beskikbaar stel.
  • Geen addisionele toerusting (amplifeerders, midi-kabels, ens.) sal beskikbaar gestel word nie.
  • Die gebruik van klankbane onder enige sub-afdeling met klankbaan:
    • Opnames moet van hoë standaard en kwaliteit wees.
    • Opnames moet in digitale formaat op die dag van die uitvoering, duidelik gemerk met die deelnemer se naam en itemnommer, ingehandig word.
    • Die party wat deur die deelnemer vertolk word, mag nie in die klankbaan gedupliseer wees nie.
    • Klankbane word op eie risiko gebruik en geen terugbetaling of herskedulering word toegelaat a.g.v. klankbane wat foutief is nie.
  • Deelnemers word aanbeveel om die inskrywingsfooie op vereenigingartsfestival.co.za te raadpleeg aangesien fooie mag verskil ten opsigte van sub-afdeling, kategorie en vlak.
  • Deelnemers moet aan die tydsbeperking van die items aandag gee. Die sameroeper van die afdeling behou die reg voor om ’n uitvoering wat die tydsbeperking oorskry, te stop.
  • Tydsbeperking word in minute aangedui.
  • Voordragprogram: Die program moet uit twee, drie of vier konstrasterende werke vanuit verskillende style bestaan. Die program moet nie die tydsbeperking oorskry nie.
  • Ensembles: Raadpleeg die afdeling Algemene Inligting in die sillabus vir die groottes van groepe. ’n Klavier of klankbaan mag as begeleiding vir die ensemble dien. Vir Gr. 1 – Gr. 4 word ’n eenstemmige item aanvaar. Vanaf Gr 5 moet sangers ’n meerstemmige item aanbied.

KOOR  AFDELING

  • Alle items is eie keuse binne die spesifieke styl.
  • Sangstukke mag in enige taal waarin dit gepubliseer is, aangebied word.
  • Net een koorwerk per itemnommer word uitgevoer, behalwe in die geval van ’n koorprogram.
  • Een sertifikaat sal per item uitgereik word.
  • ’n Koorprogram bestaan uit twee of meer koorwerke, verskillend in karakter, wat ’n gebalanseerde program vorm. Die program mag nie die tydsbeperking oorskry nie. Net een sertifikaat sal per koorprogram uitgereik word.
  • Transponering word toegelaat.
  • ’n Musiekstuk van enige genre mag onder die styl gemerk ‘ander’ ingeskryf word.
  • Deelnemers moet ’n afskrif van die musiek by die beoordelaarstafel inhandig net voor die item uitgevoer word.
  • Eenstemmige koorwerke word toegelaat vir Juniorkore.
  • Meerstemmige koorwerke word van Laerskool Seniorkore, Hoërskoolkore en Volwasse kore verwag.
  • Deelnemers moet hul eie begeleiers voorsien.
  • Kore mag werke acapella, met klavierbegeleiding en/of enige ander instrument aanbied.
  • Die Vereeniging Kunsfees onderneem om ’n klavier vir begeleiding beskikbaar te stel, maar sal nie enige addisionele instrumente voorsien of verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie.
  • Die Vereeniging Kunsfees sal koorbankies vir kore van 21 - 60 koorlede Indien die koor uit meer as 60 lede bestaan, moet die sameroeper in kennis gestel word voor die dag van optrede.
  • Die Vereeniging Kunsfees sal klanktoerusting vir die gebruik van klankbane (insluitende twee mikrofone) vir ’n sub-afdeling met klankbaan beskikbaar stel.
  • Geen addisionele toerusting (amplifeerders, midi-kabels, ens.) sal vir beskikbaar gestel word nie.
  • Die gebruik van klankbane onder enige sub-afdeling met klankbaan:
    • Opnames moet van hoë standaard en kwaliteit wees.
    • Opnames moet in digitale formaat op die dag van die uitvoering, duidelik gemerk met die deelnemer se naam en itemnommer, ingehandig word.
    • Die party wat deur die koor vertolk word, mag nie in die klankbaan gedupliseer wees nie.
    • Klankbane word op eie risiko gebruik en geen terugbetaling of herskedulering word toegelaat a.g.v. klankbane wat foutief is.
  • Deelnemers word aanbeveel om die inskrywingsfooie op vereenigingartsfestival.co.za te raadpleeg aangesien fooie mag verskil.
  • Deelnemers moet aan die tydsbeperking van die items aandag gee. Die sameroeper van die afdeling behou die reg voor om ’n uitvoering wat die tydsbeperking oorskry, te stop.
  • Tydsbeperking word in minute aangedui langs elke item in die sillabus.

AFRIKAANSE DRAMA AFDELING

 

  • Die getal inskrywings van ’n geaffilieerde is onbeperk per item.
  • Alle items (behalwe waar spesiaal vermeld) is die deelnemer se eie keuse.
  • Die maksimum tydsbeperking gee afrigters ook aanduiding van die moeilikheidsgraad en standaard van aangeleerde stukke.
  • Afdrukkke van die voordrag vir elke item, moet op A4 grootte papier by die ontvangstafel ingedien word alvorens die betrokke sessie begin.
  • Blokke of stoele is aanvaarbaar by alle gedramatiseerde sub-afdelings, maar geen verhoogversierings nie.
  • Die Vereeniging Kunsfees sal twee groot en 2 klein blokke vir die afdeling Afrikaanse Drama voorsien, asook ‘n tafel en stoel.
  • Addisionele rekwisiete word toegelaat in sekere sub-afdelings. Rekwisiete moet deur die deelnemer self voorsien en verwyder word. Die Vereeniging Kunsfees aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige rekwisiete nie.
  • Deelnemers word aanbeveel om die inskrywingsfooie op vereenigingartsfestival.co.za te raadpleeg aangesien fooie mag verskil ten opsigte van sub-afdeling, kategorie en vlak.
  • Deelnemers moet aan die tydsbeperking van die items aandag gee. Die sameroeper van die afdeling behou die reg voor om ’n uitvoering wat die tydsbeperking oorskry te stop.
  • Alle tydsbeperkinge word in minute aangedui.

 

RIGLYNE SUB-AFDELINGS:

  • Poësie (Individueel): Die keuse van gedigte moet pas by die ouderdomsgroep. Niks in die aanbieding mag die aandag aftrek van die woord af nie. Geen bewegings of gebare.
  • Gedramatiseerde Poësie (Individueel / dialoog / groep): Die voordrag van ’n gedig word verlewendig deur middel van gemotiveerde gebare en bewegings.
  • Prosa (Individueel): Prosa is die geskrewe woord of / en gesproke taal wat nie in versvorm is nie. Geen gebare en bewegings word toegelaat nie.
  • Gedramatiseerde Prosa (Individueel / dialoog / groep): Die geskrewe en gesproke woord word gedramatiseer met gebruik van stem, gesigsuitdrukkings en bewegings. Alle gebare moet gemotiveerd wees.
  • Monoloog (Individueel): ‘n Gedeelte uit ‘n toneelstuk, ‘n eenbedryf of ‘n verwerkte gedeelte uit ‘n drama aangebied as alleenspraak. In gesprek met ‘n denkbeeldige/fiktiewe persoon/persone. Die deelnemer bly deurgaans dieselfde karakter. Rekwisiete en grimering mag gebruik word.
  • Spreekkoor: Slegs een gedig mag voorgedra word. Deelnemers se voete en hande moet staties bly tydens die opvoering. Gesigsuitdrukking moet die voordrag ondersteun. Geen dirigent word toegelaat nie. Aantal lede:  15 – 50.
  • Gedramatiseerde Spreekkoor: Slegs een gedig word gedramatiseerd aangebied. Beweging, gebare, kostumering, dekor en grimering word toegelaat. Bykomende effekte soos byklanke en musiek is opsioneel. Geen dirigent word toegelaat nie. Aantal lede: 15 – 50.
  • Eenbedryf: ’n Toneelgroep van enige aantal deelnemers vertolk ’n eenbedryf. Deelnemers mag meer as een karakter vertolk. Rekwisiete, dekor, grimering en kostumering word toegelaat. Geen verhoogversierings nie.
  • Voordragkonsertprogram (Individueel / Groep / Spreekkoor): ’n Individuele deelneemer, Groep (2 - 14 persone) of Spreekkoor (15 – 50 persone) moet ‘n program van ‘n verskeidenheid werke van een digter of verskeie werke met ‘n deurlopende tema, aanbied. Sommige of al die werke mag gedramatiseerd wees. Rekwisiete en grimering mag gebruik word. Die hele program moet nie die tydsbeperking oorskry nie.
  • Voorbereide lees (Poësie of Prosa): Beoordeling op grond van deelnemer se leesvaardigheid. Vlotheid, frasering, effektiewe gebruik van oogkontak en stem. Deelnemers moet 3 leesstukke (’n gedig of ’n prosastuk) van eie keuse voorberei. Die beoordelaar sal een selekteer wat die deelnemer moet voordra.
  • Onvoorbereide lees (Poësie of Prosa): Beoordelaar voorsien leesmateriaal. Beoordeling op grond van vloeiendheid, oogkontak, gesigsuitdrukking en stemprojeksie. Deelnemers lees nie dieselfde stuk nie. Elke deelnemer kry 2 minute om voor te berei.
  • Storievertelling – Voorbereid (Individueel of Groep): Uitgebeelde storie mag ‘n gedeelte of ‘n volle verhaal wees. Musiek, rekwisiete, kostuums en bewegings mag gebruik word. Let op die oorsprong van die verhaal want dit beinvloed die bewegings en die gebruik van rekwisiete.
  • Storievertelling – Onvoorbereid (Individueel of Groep): Beoordelaar voorsien item of onderwerp. Individuele deelnemers kry 5 minute om voor te berei, groepe (2 – 15 deelnemers) kry 20 minute. Deelnemers moet ’n sinvolle storie vertel. Die verhaal moet struktuur hê met boeiende inhoud. Klem word gelê op kreatiwiteit en verbeelding, gesigspel en stemgebruik.
  • Improvisasie (Individueel of Groep): Beoordelaar gee ’n keuse van onderwerpe. Individuele deelnemers en groepe (2 – 5 deelnemers) kry 5 minute om voor te berei. Deelnemer kies 1 onderwerp/situasie en kondig dit duidelik aan. Deelnemer beeld ‘n oorspronklike situasie uit deur die gebruik van spraak, beweging en gebare.
  • Mimiek (Individueel of Groep): Deelnemers beeld ’n situasie uit deur net beweging, gebare en gesigsuitdrukking. Geen woorde, rekwisiete of kostumering. Blokke, stoele en grimering word toegelaat.

LSEN AFDELING

 

    • LSEN-leerders sal gedurende skooltyd by hul onderskeie skole beoordeel word.
    • Sodra alle inskrywings ontvang is, sal dit verwerk word en bepaal word hoeveel tyd die beoordeling sal neem.
    • Die sameroepster sal dan met die betrokke skool in verbinding tree om ‘n geskikte datum en tydgleuf te bepaal vir die beoordeling.
    • Beoordeling sal in September plaasvind.
    • Kunsstukke sal gelyktydig met die ander Visuele Kuns Afdeling beoordeel word. Volg dus asb. die instruksies vir die Visuele Kuns Afdeling, maar sorg dat die inskrywings duidelik as LSEN-inskrywings gemerk word.

 

ANDER BELANGRIKE INLIGTING:

  • Alle items is volgens eie keuse.
  • Tik die deelnemer se naam en van in volgorde soos dit op die sertifikaat moet verskyn.
  • Nommer alle deelnemers in die eerste kolom, bv. 1, 2, 3, 4, ens. Moet asb nie kolomme uithaal of bysit nie.
  • Vul Duet/Trio/Samespraak inskrywings heel onderaan jou lys in.
  • Gee duet/dialoog maats dieselfde deelnemernommer in die eerste kolom. Dieselfde reëling geld vir trios en kwartette of groepe bv. 20a, 20b of 21a, 21b, 21c.
  • Vul alle toepaslike kolomme in soos dit in die Vereeniging Kunsfees sillabus gestipuleer word. U kan net kolomme wat nie van toepassing is nie, ooplos.
  • Moet asb nie kolomme of rye verstel vir drukdoeleindes nie. Druk die vorm net so, al is die volle woord in die kolom nie sigbaar nie.
  • E-pos die elektronies ingevulde inskrywingsvorm, bewys van betaling en die ‘Fooie en Opsommingsvorm’ na vereenigingartsfestival@gmail.com Geen handgeskrewe inskrywings sal aanvaar word nie.
  • Maak asb. seker dat die inskrywingsvorm ons betyds bereik! Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Raadpleeg asb. die ‘Datums en Inligtingsvorm’ in die verband.
  • Maak ook asb. seker dat alle fooie verskuldig vir die inskrywing, betaal is. Geen inskrywings sal aanvaar word in dien die nodige fooie nie vereffen is nie.
  • Indien u enige verdere vrae het, kontak asb. die betrokke sameroepster van die afdeling waaroor u ‘n navraag het. Kontakbesonderhede verskyn op die ‘Datums en Inligtingvorm’.
Free Joomla templates by Ltheme